Transformasie van die Buro van die WAT

DIE TRANSFORMASIE VAN DIE BURO VAN DIE WOORDEBOEK VAN DIE AFRIKAANSE TAAL
DEUR BEPLANNING EN BESTUUR

D.J. Van Schalkwyk

1.Inleiding

Daar het die afgelope paar jaar ingrypende politieke en maatskaplike veranderinge in Suid-Afrika plaasgevind en die leksikografie en metaleksikografie het ook energiek ontwikkel.In hierdie voordrag sal gekonsentreer word op die invloed wat dit op die Buro van die WAT gehad het asook op die Suid-Afrikaanse leksikografie in die algemeen.

2.Die leksikografiese situasie in Suid-Afrika soos dit in 1994 was

Teen 1994 was daar, soos ons reeds gehoor het, slegs twee staatsgesubsidieerde leksikografiese projekte in SA, nl.

(i) die Dictionary Unit for South African English, wat The Dictionary of SA English on Historical Principles, wat in Julie 1996 verskyn het, saamstel,

(ii)die Buro van die WAT, wat die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) saamstel.

Daar was ook vier ander leksikografiese projekte wat hoofsaaklik deur die universiteite waaraan hulle gekoppel is, gefinansier word.Hulle is:

(i) die isiXhosa Woordeboekprojek, wat die Greater isiXhosa Dictionary saamstel,

(ii)die isiZulu Woordeboekprojek, wat dele 1 en 2 van die woordeboek isiKazamasu in 1981 en 1985 voltooi het, en wat tans aan 'n groot isiZulu woordeboek werk,

(iii) die Sesotho sa Leboa Woordeboekprojek, wat reeds twee sakgrootte tweetalige woordeboeke gepubliseer het en tans aan 'n omvattende enkelvolume Engels-Pedi, Pedi-Engels woordeboek en 'n klein eentalige woordeboek werk, en

(iv)die isiNdebele Woordeboekprojek, wat op daardie stadium hom veral met die opbou van 'n databasis besig gehou het.

3.Die Buro van die WAT se voorbereiding vir die hantering van die "nuwe" Suid-Afrika

In 1989 het die Buro van die WAT begin met strategiese beplanning, hoofsaaklik met die doel om die werk aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal drasties te versnel.

Die Buro het omvattende strategiese beplanning gedoen en die interne en eksterne faktore wat die Buro kon beïnvloed, is deeglik oorweeg.In dié proses het die Buro sensitief begin raak vir die swak en sterk punte van die Buro in die interne omgewing en van die bedreigings en geleenthede in die eksterne omgewing.

3.1Swak punte in die interne omgewing

Die volgende swak punte is onder andere in die interne omgewing geïdentifiseer:

(i) Die Buro was nog nie ten volle gerekenariseer nie,

(ii)Die Buro het nie oor 'n behoorlike organisasie- en personeelstruktuur beskik nie,

(iii)Geen posspesifikasies het bestaan nie en produksienorme was totaal afwesig,

(iv)Die Buro het nie oor 'n gestruktureerde opleidingskursus vir sy personeel beskik nie,

(v) Die Buro het ook nie oor 'n program beskik om nuwe personeel by die aktiwiteite van die Buro in te skakel nie,

(vi)Die Buro was begrotingsgedrewe omdat die afwesigheid van duidelik geformuleerde doelwitte 'n doelwit-georiënteerde begroting onmoontlik gemaak het,

(vii) Die Buro het ook geen bestuurstelsel gehad waarmee prestasie bestuur kon word nie.

Maar selfs nog belangriker as dit:

(i) Die Buro het besef dat hy weens die isolasie waarin hy hom bevind het as gevolg van boikotte en kultuurboikotte

(a)kontak verloor het met die kontemporêre stand van die linguistiek en die metaleksikografie, maar

(b)ook met die behoeftes en sensitiwiteite van die woordeboekgebruiker.

Die Buro het feitlik geen kontak gehad met die ander leksikografiese projekte in SA nie.Hy het geen kontak met die leksikografiese projekte in die res van Afrika gehad nie en baie min met leksikografiese projekte in die res van die wêreld. Die Buro het ook weinig kontak met SA taalkundiges gehad en feitlik geen kontak met taalkundiges in die res van die wêreld nie.

In so 'n situasie van isolasie word die vraag:Hoe ervaar die woord boekgebruiker dit wat in die woordeboek opgeneem is? nie eers meer gestel nie.Sensitiewe terme soos rassismes en seksismes is sonder behoorlike nadenke aangebied.

3.2Sterk punte in die interne omgewing

Tydens die strategiese beplanningsproses het dit ook geblyk dat die Buro oor sterk punte beskik, waarvan ek slegs enkeles noem.

(i) Daar het 'n opregte begeerte by die betrokkenes bestaan om los te breek uit die isolasie waarin die projek vasgevang was.

(ii)Daar was genoeg kundigheid en ervaring in die Buro beskikbaar om die hersiening van die redaksionele stelsel van die Buro te begelei.

(iii)Die kundigheid was beskikbaar om die projek doeltreffend te rekenariseer,

(iv)Die personeel was begerig om indringend aandag te skenk aan die hantering van sensitiewe terme in die WAT, en

(v) Die Buro het oor die ervaring beskik om die projek te herbeplan en om dit effektief te bestuur.

3.3Bedreigings in die eksterne omgewing

In die eksterne omgewing is verskeie bedreigings geïdentifiseer, waarvan die volgende die belangrikstes was:

(i) Die Buro het besef dat die staatsubsidie aan die Buro mettertyd verminder kan word.

(ii)Selfs geesdriftige ondersteuners van die projek het belang in die projek begin verloor en dit het die bemarking van die woordeboek bemoeilik,

(iii)Eksemplare van sekere van die handwoordeboeke van Afrikaans, waarin rassistiese terme opgeneem is, is deur leerlinge opgeskeur en verbrand, en die hantering van rassismes in die WAT het ook in die Beheerraad van die WAT in die spervuur beland,

(iv)Toe daar in 1989 met strategiese beplanning begin is, het die Buro besef dat die buitewêreld onsimpatiek teenoor hom staan as gevolg van die politieke bedeling in SA en vanweë die feit dat Afrikaans as die taal van die onderdrukker beskou is, en

(v)Die Buro was vanweë verskeie redes en vanuit verskillende oorde op nasionale en internasionale vlak geïsoleer.

3.4Geleenthede in die eksterne omgewing

Daar was ook opwindende geleenthede in die eksterne omgewing.Die grootste geleentheid was om reg te stel wat verkeerd was, maar daar was ook ander.

(i) Hoe nader aan 1994 beweeg is, hoe meer is daar besef dat die eksterne omgewing hom daartoe begin leen het om los te kom uit die isolasie waarin SA en ook die Buro van die WAT hom bevind het,

(ii)In die eksterne omgewing was baie kundigheid en ervaring wat benut kon word om die gebreke en beperkinge van die Buro van die WAT sowel as van die WAT sover moontlik uit te skakel,

(iii) Die demokratiese bestel wat na 27 April 1994 gevolg het en die bevryding wat dit vir 'n groot persentasie van SA se mense gebring het, het samewerking in die land baie makliker gemaak,

(iv)Die Buro van die WAT was oortuig dat hy weens sy ervaring betrokke kan raak by die opleiding van leksikograwe van ander leksikografiese projekte, en

(v) Weens die feit dat Afrikaans nou nie meer een van twee amptelike tale was nie, maar wel een van elf, het baie Afrikaanssprekendes laat besef dat hulle iets konstruktiefs sal moet doen indien Afrikaans sy plek wil volstaan tussen die ander 10 amptelike tale.

4.Beplanning van die transformasie

Naas die analise wat van die interne en eksterne omgewing van die Buro gedoen is, is ook 'n missie vir die Buro geformuleer, wat soos volg lui:

Die missie is om die Afrikaanse taal en sy gebruikers te dien sowel as leksikografie in die algemeen.

Nadat die doelstellings van die Buro van die WAT geformuleer is, is die areas geïdentifiseer waarop die Buro sou moes konsentreer indien hy sy missie en sy doelstellings wil verwesentlik.Die take wat uit die Buro se fokusareas voortgevloei het, is ook geïdentifiseer.Hiervan wil ek net vyf noem, nl.

(i) om as groeipunt en stimulus vir leksikografiese aktiwiteite en metaleksikografiese denke in Suid-Afrika te dien;

(ii)om met die oog op die uitruil van leksikografiese kennis, informasie en publikasies met Suid-Afrikaanse en buitelandse leksikografiese en ander taalverwante instansies te skakel;

(iii) om in die vorm van wetenskaplike publikasies tot die leksikografiese teorie en praktyk by te dra;

(iv)om deur middel van samewerking met eksterne woordeboekprojekte die algemene vlak van die leksikografie, veral in Afrika, te help verhoog;en

(v)om deur opleiding en werkskepping 'n aktiewe rol in die opheffing van ongelykhede op die terrein van die leksikografie te speel.

5.'n Plan van aksie

Nadat die strategiese beplanning vir die Buro gedoen is, is 'n plan van aksie opgestel om die Buro en die WAT van sy tekortkominge en beperkinge te bevry.Hierdie plan van aksie is toe in werking gestel.

5.1Hersiening en vernuwing van die redaksionele stelsel

Daar is besluit om in die eerste plek aandag te skenk aan die hersiening en vernuwing van die redaksionele stelsel van die WAT.Vir dié doel is linguiste in SAgeïdentifiseer wat op die een of ander wyse by die leksikografie betrokke was en hulle is na 'n gespreksgeleentheid wat drie dae geduur het, uitgenooi.Ook leksikograwe betrokke by ander leksikografiese projekte is uitgenooi.

Na hierdie gesprek is die redaksionele stelsel van die WAT aangepas sodat dit in pas kon wees met die hedendaagse stand van die linguistiek en die metaleksikografie.Die tipologie van die Woordeboek is ook so aangepas dat die WAT 'n gebruikersvriendelike produk kan wees.

Na dié gespreksgeleentheid is die redaksionele stelsel gerekenariseer en vanaf deel IX van die WAT toegepas.

Presies twee jaar na die gespreksgeleentheid is 'n verslagvergadering gereël.Die nuwe redaksionele stelsel is toe met dieselfde mense wat die gespreksgeleentheid bygewoon het, aan die hand van woordeboekteks bespreek.Hierdie geleenthede het nie net 'n beter redaksionele stelsel wat behoorlik gerekenariseer is tot gevolg gehad nie, dit het ook die verhouding tussen die leksikograwe van die Buro en dié van ander projekte en ook met die linguiste wat aan die gesprek deelgeneem het positief beïnvloed.

5.2Hersiening van die organisasie- en personeelstruktuur van die Buro

Na aanleiding van die strategiese beplanning van die Buro van die WAT is 'n organisasie- en personeelstruktuur vir die Buro ontwikkel.Vooraf is 'n grondige werksontleding gedoen om insig te verkry in die totale taak en verantwoordelikheid van die Buro.

5.2.1Posspesifikasies en produksienorme

Posspesifikasies en produksienorme is terselfdertyd ontwikkel.

5.2.2'n Indiensopleidingskursus

Nadat produksienorme ingestel is, het die Buro 'n indiensopleidingskursus ontwikkel wat daarop gemik was om die leksikografiese vaardighede van nuwe personeellede so vinnig as moontlik te ontwikkel, en om ander personeellede so goed as moontlik te ondersteun in die uitvoering van hulle take.Regstellende aksie, een van die strategieë van die huidige regering, is derhalwe nie 'n onoorkomelike probleem vir die Buro nie.

5.2.3Wyer aanwending van die opleidingskursus van die Buro

Die Buro se opleidingskursus het geblyk baie suksesvol te wees.Vroeër het dit enigiets tot vier jaar geduur om leksikograwe op te lei dat hulle selfstandig kan werk, tans word dit in 4 tot 6 maande gedoen.

Die Buro het toe 'n verskeidenheid korter kursusse saamgestel wat aan dosente wat die metaleksikografie doseer sowel as aan leksikografiestudente wat praktiese ondervinding in die leksikografie wil opdoen, aangebied word.Kollegas van die ander leksikografiese projekte in SA het ook reeds van hierdie kursusse bygewoon.Kollegas uit Nami bië, Angola, Tanzanië, Zambië en Gaboen is ook by die Buro opgelei, sowel as kollegas van die provinsiale regerings en die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad.

In 1997 het die Buro opleiding vir leksikograwe van 10 Afrikalande aangebied in Libreville, Gaboen.

In 'n gees van koöperatiewe leksikografie bied die Buro gereeld leksikografiekursusse aan vir studente van die Pretoriase en Kaapse technikons.Studente van die Universiteit van Leiden, van die Universiteit van Amsterdam en van die Vrije Universiteit van Amsterdam in Nederland het ook reeds opleiding by die Buro ontvang.

5.2.4Professionele begeleidingsprogram

Die Buro het 'n professionele begeleidingsprogram vir sy personeel ontwikkel waarmee die integrasie van nuwe personeellede in die Buro deurlopend gemonitor word.Die ontwikkeling van al sy personeel is vir die Buro baie belangrik, daarom word daar voortdurend personeelontwikkelingsprogramme aangebied.

5.2.5 Jaarlikse beplanningsessie

Teen die einde van elke jaar het die Buro 'n beplanningsessie waaraan alle personeel van die Buro deelneem.By dié sessie word 'n oudit van die doelwitte van die afgelope jaar gedoen en die strategiese doelwitte van die Buro vir die volgende jaar geformuleer om te verseker dat die personeel doelgerig werk.

5.2.6 'n Doelwitbegroting

Die Hoofredakteur stel 'n doelwitbegroting op wat op hierdie strategiese doelwitte gebaseer is en wat wesenlik bydra tot doelwitbestuur.

5.2.7 'n Prestasiebestuurstelsel

Die Buro het 'n geïntegreerde prestasiebestuurstelsel ingestel wat dit vir die Hoofredakteur moontlik maak om die prestasie van alle afdelings in die Buro deurlopend te monitor.Op dié wyse word verseker dat die Buro as 'n eenheid vooruitbeweeg en dat die doelwitte en doelstellings van die Buro op die gesette teikendatums bereik word.

6.'n Setafdeling vir die Buro

Die Buro het die programmatuur aangeskaf en die kundigheid ontwikkel om woordeboeke te set, en set al sy eie produkte.

7.Koöperatiewe leksikografie

Tydens eksterne ondersoeke het die Buro nie alleen van die behoeftes nie, maar ook van die vakkundigheid by die ander leksikografiese projekte bewus geraak.Dit het daartoe gelei dat daar na groter samewerking gestreef is, en die Buro het die idee van koöperatiewe leksikografie begin ondersoek.

In 'n poging om konkrete uitvoering aan hierdie idee te gee, het die Beheerraad van die WAT versoek dat 'n lewensvatbaarheidstudie oor 'n Instituut vir Suider-Afrikaanse leksikografie onderneem word.Hierdie studie is in Julie 1993 deur 'n eksterne ondersoekspan voltooi.

Aangesien die nasionale leksikografie-eenhede vir die amptelike tale van SA, waaraan later inhoud gegee is, 'n substituut vir die gedagte van 'n Instituut vir Suider-Afrikaanse leksikografie is, het so 'n instituut nie tot stand kom nie, maar hierdie lewensvatbaarheidstudie het uiters waardevolle inligting gelewer wat by die vestiging van die nasionale leksikografie-eenhede in berekening gebring kan word.

8.'n Leksikografiese tydskrif vir die vakspesialis

Die eerste volume van Lexikos, 'n publikasie deur die Buro van die WAT vir die leksikografiese vakspesialis, het in 1991 verskyn.Sedertdien verskyn dit elke jaar in die AFRILEX-reeks.Lexikos is die enigste vakjoernaal in Afrika wat uitsluitlik op die leksikografie toegespits is.

Deur die publikasie van die AFRILEX-reeks streef die Buro daarna:

(i) om 'n kommunikasiekanaal vir die nasionale en internasionale leksikografiese gesprek te help skep, en in die besonder die leksikografie in Afrika met sy ryk taleverskeidenheid te dien;

(ii)om die gesprek tussen leksikograwe onderling en tussen leksikograwe en taalkundiges te stimuleer;

(iii) om kontak met plaaslike en buitelandse leksikografiese projekte te bewerkstellig en te bevorder;

(iv)om die interdissiplinêre aard van die leksikografie, wat ook terreine soos die taalkunde, algemene taalwetenskap, metaleksikografie, rekenaarwetenskap, bestuurskunde, e.d. betrek, onder die algemene aandag te bring;

(v)om beter samewerking op alle terreine van die leksikografie moontlik te maak en te koördineer, en

(vi) om die doelstellings van die African Association for Lexicography (AFRILEX) te bevorder.

Al die doelstellings van die AFRILEX-reeks is in 'n mindere of meerdere mate reeds verwesenlik.Daar is kontak gemaak met al die leksikografiese projekte in Suid-Afrika, sowel as 'n aantal in Afrika en die res van die wêreld.Lexikos word steeds saamgestel en uitgegee deur die Buro, maar vanaf volume 6 is dit die mondstuk van die African Association for Lexicography.

Uit die Adviesraad en die Redaksiekomitee van volume 12 van Lexikos wat verlede jaar verskyn het, blyk die omvang van die kontak wat die Buro reeds gemaak het.Maar daaruit blyk ook dat die Buro se kontak met verskeie lande nog nie na wense is nie.

9. Die African Association for Lexicography (AFRILEX)

AFRILEX is in 1995 gestig.Jaarliks word 'n konferensie gereël waartydens leksikograwe uit Afrika, maar ook van elders, die geleentheid kry om navorsingsresultate te rapporteer.Die konferensie van AFRILEX vind vanjaar in Namibië plaas en in 2004 in Gaboen.m

10. Satellietpublikasies van die Buro

Gedurende die afgelope paar jaar het die Buro van die WAT bewus geraak van die moontlikheid om woordeboeke as satellietpublikasies saam te stel met die samewerking van buite-outeurs.Sommige produkte is reeds uitgegee, bv. 'n Kerntesourus van Afrikaans en 'n Idioomwoordeboek, en die Buro werk tans aan 'n etimologiese woordeboek in samewerking met buite-outeurs en die Instituut voor Nederlandse Lexicologie.Die fondse vir hierdie projek is ook uit Nederland verkry.Dit is 'n belowende aspek wat die generering van fondse vir die Buro betref.Fondse wat in die verlede op hierdie manier verkry is, is veral vir die opleiding van kollegas van ander leksikografiese projekte benut.Aangesien die Staatsfondse van die Buro tans afgeskaal word, sal dit al meer vir eie behoeftes benut moet word.

11. Die hantering van beledigende en sensitiewe woorde in die WAT

Omdat die Buro besef het dat woordeboeke 'n groot bydrae tot nasiebou kan lewer, maar ook dié proses kan belemmer, is daar van 8 tot 10 Februarie 1994 'n internasionale konferensie op Stellenbosch gehou om maniere te oorweeg waarop beledigende en sensitiewe lemmas in woordeboeke hanteer kan word.'n Beleid vir die hantering van beledigende en sensitiewe lemmas in die WAT is daarná geformuleer.Hierdie beleid is sowel nasionaal as internasionaal vir kommentaar gesirkuleer.Die kommentaar is sover moontlik ingewerk en die finale beleid is deur die Beheerraad goedgekeur.Die beleid word vanaf volume X van die WAT toegepas, sowel as by die heruitgawe van volumes.

Die Buro het reeds dié dele van die WAT wat reeds verskyn het, hersien ooreenkomstig hierdie beleid en dit het twee weke gelede op CD-ROM verskyn.

Die Beheerraad van die WAT glo nie alleen dat hierdie beleid begrip toon vir 'n probleem van die verlede wat groot pyn, verontwaardiging en interpersoonlike afstand veroorsaak het nie, maar ook dat dit op hierdie manier tot die regstelling van die probleem bydra.

12.'n Nuwe leksikografiese bedeling vir Suid-Afrika

Die transformasie van die Buro van die WAT het begin in aanloop tot die aanbreek van die "nuwe" Suid-Afrika.Sedert die verkiesing van 27 April 1994 het die nuwe talebestel in Suid-Afrika verder momentum aan hierdie transformasie gegee, want van toe af het Suid-Afrika elf amptelike tale en nie meer twee nie.

Van staatskant is die behoefte uitgespreek dat daar 'n leksikografie-eenheid vir elk van die elf amptelike tale daargestel moet word om rigting te gee aan die proses van taalontwikkeling, veral van die gemarginaliseerde tale.

Die Departement van Kuns en Kultuur waaronder ook taalaangeleenthede ressorteer, was die mening toegedaan dat die verantwoordelikheid vir die daarstelling en instandhouding van leksikografie-eenhede by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad geplaas moet word.Dit was nie 'n verantwoordelikheid van die Taalraad toe dit in 1995 tot stand gekom het nie, maar dit is later wel onder die Taalraad geplaas.

Terwyl daar gewag is om uitsluitsel te kry oor die plasing van hierdie verantwoordelikheid, het die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad die proses vir die stigting van leksikografie-eenhede aan die gang gesit.Soos ons vroeër gehoor het, is hierdie proses afgehandel en elke amptelike taal in SA beskik nou oor 'n Nasionale Leksikografie-Eenheid.In hierdie proses het die Buro van die WAT 'n baie groot rol gespeel.

13.Leksikografiese stimuli uit Afrika

Uit Afrika het die Buro van die WAT die afgelope jare stimuli ontvang om te transformeer en om die transformasieproses te versnel.In dié verband kan veral Afrika se strewe om na die inheemse tale terug te keer en die gevolglike opbloei van leksikografie in Afrika genoem word.

Die Buro van die WAT besef dat hy in sy transformasie-aksie nie vir Afrika uit die oog kan verloor nie.

14.Die Buro se binding met die leksikografiese wêreld buite Afrika

Sedert daar in 1926 begin is met die Woordeboek van die Afrikaanse Taal is daar kontak gemaak met die Woordenboek der Nederlandse Taal en met verloop van tyd ook met die Oxford English Dictionary en ander internasionale projekte. Hierdie kontak het gedurende die tagtigerjare 'n laagtepunt bereik.

Nadat daar begin is met die strategiese beplanning in 1989 het die Buro besef dat hy in die internasionale leksikografiese hoofstroom sal moet beland indien hy die stimuli wil kry wat hy nodig het om 'n rol in Suid-Afrika en in Afrika te speel. Op hierdie stadium was die Buro reeds lid van die European Association for Lexicography (EURALEX) en die Dictionary Society of North America (DSNA), maar hoogstens as 'n stille vennoot.Kongresse is sedertdien bygewoon en kollegas het begin referate aanbied.In die tussentyd het die Buro ook lid geword van The Australasian Association for Lexicography (AUSTRALEX) en daar word tans onderhandel met die Asian Association of Lexicography (ASIALEX), die Lexicographical Society of India (LXSI) en met die China Association of Lexicography (CHINALEX).

Leksikografiese projekte in Engeland, Europa, Amerika en die Skandinawiese lande is besoek wat die uitruiling van inligting en die vestiging van positiewe verhoudinge tot gevolg gehad het.Op praktiese vlak het dit onder andere gelei tot heel konstruktiewe samewerking tussen die Buro en die INL, asook met die Akademie der Wissenschaften in Göttingen waar die Deutsches Wörterbuch van Jacob Grimm and Wilhelm Grimm saamgestel word.

Lexikos, die vaktydskrif wat deur die Buro saamgestel word, het die Buro se internasionale leksikografiese bande aansienlik uitgebrei en versterk.

Wanneer 'n organisasie in die internasionale oog begin kom, dan merk hy die transformasie wat hy behoort te ondergaan natuurlik makliker op.

15.Ander stimuli wat die transformasieproses van die Buro beïnvloed het

Dit is nie altyd moontlik om elke faktor wat 'n rol speel tydens 'n transformasieproses te verreken nie.Alles wat reeds genoem is, het wel 'n rol gespeel, maar daar was nog meer faktore.

Die instel en ontwikkeling van kursusse in die metaleksikografie aan Suid-Afrikaanse universiteite was een van hierdie verdere faktore.Die rol wat die leksikografie-afdeling in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch gespeel het, sowel as die Departement self, moet in dié verband genoem word.Maar daar was ook nog ander faktore waarop ek nie nou verder sal ingaan nie.

16.Die uitkoms van die transformasieprose?

Wat is die uitkoms van hierdie transformasieproses?

Die WAT beskik tans oor 'n gerekenariseerde redaksionele stelsel waarmee 'n produk gelewer kan word wat meer in pas is met die hedendaagse stand van die linguistiek, die leksikografie en metaleksikografie.Vanweë die aangepaste tipologie is dit ook 'n gebruikersvriendeliker woordeboek.Verder is die Buro 'n doeltreffend beplande eenheid wat maklik op 'n effektiewe wyse bestuur kan word.

Die praktiese effek van die Buro se rekenarisering, sy strategiese beplanning, sy instelling van produksienorme sowel as die toepassing van sy vaardighede is dat volume IX sowel as volume X van die Woordeboek binne 2½ jaar en volume XI in drie jaar voltooi en intern geset is, terwyl dit gemiddeld 7 - 8 jaar geduur het om die voorafgaande volumes te voltooi.

Die Buro het ook losgebreek uit die isolasie waarin hy verkeer het en daar word nou in 'n gees van koöperatiewe leksikografie voortdurend gewerk aan meer en beter kontak met linguiste, leksikograwe, metaleksikograwe en leksikografiese projekte oor die hele wêreld.

Ten slotte

'n Vraag wat deurlopend op die agenda van die Buro van die WAT verskyn is:Watter transformasie moet die Buro nog ondergaan indien hy toekomstige uitdagings die hoof wil bied, want transformasie is soos beplanning en bestuur 'n kontinue proses en daarom is dit nooit afgehandel nie.

Dr. Dirk Van Schalkwyk, hoofdredacteur van het Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), heeft op 14 en 15 april 2003 in Leiden op het Instituut voor Nederlandse Lexicologie vier lezingen gehouden. Twee daarvan zijn in Trefwoord opgenomen. Dr. Van Schalkwyk was in Nederland vanwege de feestelijke presentatie van het Etymologiewoordeboek van Afrikaans (EWA) op 16 april 2003. Dit is de tekst van een lezing die D.J. van Schalkwyk op 14 April 2003 heeft uitgesproken op het Instituut Voor Nederlandse Lexicologie, Leiden. Voor de tekst van de andere lezing klikt u hier. Lees ook het artikel van Jan Noordegraaf, Het Afrikaanse alternatief. A.N.E. Changuion (1803-1812) en het WNT.

Leeslys

Hierdie referaat is voorberei teen die agtergrond van die volgende publikasies:

Alberts, M. 1993. Lewensvatbaarheidstudie:Instituut vir Suider-Afrikaanse Leksikografie. Ongepubliseerde verslag.Stellenbosch. pp. 1-45.

Botha, W.F. 1994.An About-Turn Halfway Through the Completion of a Multi Volume Overall-Descriptive Dictionary Gallantry of folly?Willy Martin, e.a. (Red.).1994.Euralex 1994 Proceedings:419-425.(Papers submitted to the 6th EURALEX International Congress on Lexicography in Amsterdam, The Netherlands.)

Buro van die WAT. 1989a.Notule van die groepsgesprek wat van 27 tot 29 November 1989 op Stellenbosch plaasgevind het. Ongepubliseerde verslag. Stellenbosch.

Buro van die WAT. 1989b.Verslag oor die strategiese beplanning vir die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Ongepubliseerde verslag. Stellenbosch.

Buro van die WAT. 1990.Verslag oor 'n rasionele organisasie- en personeelstruktuur vir die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Ongepubliseerde verslag.Stellenbosch.

Buro van die WAT. 1991a.Notule van die verslagvergadering wat op 25 November 1991 by die US Seminaarsentrum te Stellenbosch plaasgevind het. Ongepubliseerde verslag.Stellenbosch.

Buro van die WAT. 1991b.Verslag oor die oorsese inligtingsreis van dr. D.J. van Schalkwyk: 3-27 Mei 1991. Ongepubliseerde verslag. Stellenbosch.

Buro van die WAT. 1993Verslag van die oorsese reis van dr. D.J. van Schalkwyk:5 Mei tot 2 Junie 1993. Ongepubliseerde verslag. Stellenbosch.

Buro van die WAT. 1994a.Notule van die Beplanningsberaad:Beheerraad van die WAT en personeel van die Buro, 26 Augustus 1994. Ongepubliseerde verslag. Stellenbosch.

Buro van die WAT. 1994b.Notule van die internasionale kongres oor die hantering van beledigende en sensitiewe leksikale items in die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Ongepubliseerde verslag. Stellenbosch.

Buro van die WAT. 1995. A Planning Framework for the Xhosa Dictionary Project. Ongepubliseerde verslag. Stellenbosch.

Buro van die WAT. 1996.Xhosa Dictionary Project (XDP): Manual for the use of the LEXI-XDP (MS Word) program. Ongepubliseerde verslag. Stellenbosch.

Buro van die WAT. 1997. Verslag van die oorsese reis van dr. D.J. van Schalkwyk:6-27 September 1997. Ongepubliseerde verslag. Stellenbosch.

Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie (DKWWT).1996. Towards a National Language Plan for South Africa. Ongepubliseerde verslag. Pretoria.

Du Plessis, J.C.M.D. (Red.). 1998.Redaksionele doelstellings. Stellenbosch:Buro van die WAT.

Harteveld, P. 1994.Die invloed van rekenarisering op die leksikografiese praktyk in die Buro van die WAT. Ongepubliseerde M.A.-tesis. Universiteit van Stellenbosch.

Harteveld, P. 1995.Die invloed van rekenarisering op die leksikografiese terminologie.Lexikos 5:1-39.

Harteveld, P. en Van Niekerk, A.E.1995.Beleid vir die hantering van beledigende en sensitiewe leksikale items in Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal.Lexikos 5: 232-248.

Pan South African Language Board (PANSALB), 1997.Lexicographic Consultative Meeting:31 October 1997. Ongepubliseerde verslag. Pretoria.

Pan South African Language Board (PANSALB), 1998a.Lexicographic Meeting of the existing Lexicographic Units of South Africa:19 & 20 March 1998. Ongepubliseerde verslag.Pretoria.

Pan South African Language Board (PANSALB), 1998b.Lexicographic Meeting of those Languages which do not already have a Lexicographic Unit:14 & 15 May 1998.Ongepubliseerde verslag.Pretoria.

Van Schaklwyk, D.J. 1995a.Co-operative Lexicography. Cajot, J., e.a. (Red.).1995.Lingua Theo disca:Beiträge zur Sprach- und Literaturwissenschaft (Jan Goossens zum 65.Geburtstag):575-586.Münster, Hamburg:Lit. (Niederlande-Studien 16/1).

Van Schalkwyk, D.J. 1995b.Innovative Approaches in the Training of Lexicographers. Lexikos 5:267-278.

Van Schalkwyk, D.J. & Mey, M.T.1992.Planning of an Organisational and Post Structure for the Bureau of the Woordeboek van die Afrikaans Taal (WAT).Lexikos 2:265-285.

Wet op die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, 1995.

Instituut voor Nederlandse Lexicologie, Leiden, 14 April 2003